Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 10 JANUARIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL-NASIONALE KONVENSIE – BESPREEK VAN VOLGENDE WEEK AF

BACAR-LANSERING IN DIE WES-KAAP

PEARS BHF/UHF-KOMPETISIE VOLGENDE NAWEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-NASIONALE KONVENSIE – BESPREEK VAN VOLGENDE WEEK AF

Besprekings vir die SARL se Nasionale Konvensie open volgende week. Die Port Elizabeth Amateurradiovereniging is die gasheer vir die konvensie wat vanaf Vrydag 23 tot Sondag 25 April 2010 in Port Elizabeth gehou word.

Vrydagaand word ’n verwelkomings-spitbraai gehou. Saterdag is daar ’n verskeidenheid aktiwiteite ná die AJV, wat die oggend gehou word. Afgevaardigdes het ’n keuse van ’n besoek aan die Seaview Wildpark, ’n besoek aan Hightech Automotive – tuiste van die AC Cobra. Bespreek vir die PIC-kursus aangebied deur John Willescroft, ZS6EF, of woon ’n DX-dinkskrum by saam met Donovan van Loggerenberg, ZS2DL.

Die jaarlikse Toekenningsdinee word by die Italiaanse Sosiale Klub gehou. Hans Blondeel Timmerman, PB2T, President van Streek 1 van die Internasionale Amateurradio-unie is die gasspreker.

Die konvensie sluit af met ’n ontbyt Sondagoggend.

Daar is talle ander verrassings en gelukstrekkings. Daar sal gereelde opdaterings in SARL-nuus en op www.sarl.org.za wees. Die besprekingsvorm sal van Woensdag 13 Januarie 2010 beskikbaar wees.

TUISKONSTRUKSIEKURSUS – KAAPSTAD VOL BESPREEK

Die SARL se Tuiskonstruksiekursus wat op 23 Januarie 2010 in Kaapstad gehou word, is vol bespreek. Daar is egter nog plek vir die Durban- en Port Elizabeth-kursusse.

Volle besonderhede en ’n besprekingsvorm is beskikbaar op www.sarl.org.za – kies ‘Activities’ en dan ‘RTA’ en volg die skakels. As u vir enige kursus bespreek het, sal u naam op die RTA-bladsy verskyn. Gaan dit asseblief na en as u naam nie daar is nie, stuur ’n e-pos aan rta@sarl.org.za.

BACAR-LANSERING IN DIE WES-KAAP

Die eerste vlug van BACAR-2010 word vir Sondag 24 Januarie beplan. Die loonvrag is multifunksioneel en sluit 'n 20- en 40 m ESB-sendontvanger, 'n 2 m papegaaiherhaler, 'n 2 m Dopplerbaken (toegerus met GPS) asook 'n kamera in. SARL-nuus en www.amsatsa.org.za sal gereelde opdaterings aanbring.

SARL-LIDMAATSKAP BREEK DEUR DIE 1 300-MERK

Die SARL het die nuwe jaar met 1 323 lede begin. Ons teiken vir die einde Januarie is 1 400 en ons het u hulp nodig om dit te bereik. Gesels met u vriende wat nog nie lede is nie en oorreed hulle dat hul ondersteuning belangrik is om die SARL se stem dik te maak tydens gesprekke met die owerhede. Tans is die aansluitingsfooi vir die volgende ses maande slegs R200. Besoek www.sarl.org.za vir besonderhede om aan te sluit of skakel Mariska by 011 675 2393.

STEL ‘N VRIEND VOOR VIR ’N SARL-TOEKENNING

Ons is seker u weet van iemand in u klub wat in sekere aspekte van amateurradio uitblink. Stel die persoon voor vir ’n toekenning wat tydens die jaarlikse toekenningsdinee by die Nasionale Konvensie in Port Elizabeth toegeken sal word. U kan meer inligting in ‘ClubTalk’ op die SARL-nuusbladsye bekom. Besoek www.sarl.org.za, kies ‘News’ en dan ‘ClubTalk’.

KOMPETISIENUUS

Die eerste sessie van die jaarlikse PEARS BHF/UHF-kompetisie begin om 18:00 SAT op Vrydag 15 Januarie en eindig om 16:00 SAT op Saterdag 16 Januarie. Die tweede sessie begin om 16:01 SAT op Saterdag en eindig om 14:00 SAT op Sondag 17 Januarie. Deelname kan wees as ’n basisstasie, ’n veldstasie, klub-, multi-operateurstasie of as ’n beperkte stasie. Werking is op FM, ESB en digitaal op 2-, 4- en 6 m, asook 23- en 70 cm. ’n Geldige kontak bestaan uit die uitruil van roepseine, seinrapporte en ligging, soos die sessyfer Maidenhead-ruitverwysing of koördinate. Die reëls is beskikbaar op www.zs2pe.co.za.

PEARS HF QSO-geselligheid

Dit is aangenaam vir PEARS om die uitslae van die PEARS HF QSO-geselligheid, gehou op 6 Desember 2009, bekend te maak. Geluk aan die wenners en baie dankie aan almal wat deelgeneem het. Die volledige uitslae sal beskikbaar gemaak word op die PEARS-webwerf.

Onbeperkte klas

1e Jan Botha, ZS4JAN, 162 punte;
2e André le Roux, ZS2AL, 110;
3e Otto van Rooyen, ZS2Q, 97 punte.

Beperkte klas

1e Johan Visagie, ZR4LP/6, 60;
2e Petrus Delport, ZR6BVS, 10 punte.

DX-klas

1e Andy Cory, 3DA0TM, 66 punte.

Beginnersklas

Geen inskrywings is ontvang nie.

MOSIES VIR DIE ALGEMENE JAARVERGADERING

In verlede week se SARL-nuus is die verkeerde faksnommer per abuis verstrek vir die indiening van mosies vir die SARL se AJV. Die korrekte faksnommer is 088 011 675 2793.

Onthou dat elke mosie ’n bondige beskrywing van die mosie en 'n motivering ter ondersteuning daarvan moet bevat. 'n Voorsteller en sekondant moet elke mosie onderteken.

Mosies moet die Sekretaris nie later nie as Sondag 31 Januarie 2010 bereik. Mosies moet geadresseer word aan: Die Sekretaris, SARL, en gepos word aan Posbus 1721, Strubensvallei, 1735, of gefaks word na 088 011 675 2793.

KLUBNUUS

Die Antieke Draadloosvereniging (of ADV) kondig graag die nuwe komitee vir 2010 aan: President - Don Radford, ZS5DR; tegniese raadgewer - Rad Handfield-Jones, ZS6RAD, en sekretaris/skakelbeampte - Andy Cairns, ZS6ADY.

Die ADV bedank Rad, ZS6RAD, die uittredende President, wat die ADV die afgelope twee jaar gedien het en wens die nuwe komitee alles van die beste toe vir die jaar vorentoe.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, is dié week weg en Hans, ZS6AKV, staan sy plek vol. Hans rapporteer dat die geomagnetiese toestande stil is. Plaaslike HF-frekwensies is onstabiel tot effens hoër as die voorspelde gemiddelde maandelikse waardes. Daar is net een aktiewe area op die sonoppervlak waar te neem.

Voortplantingstoestande behoort matig te wees met onstabiele, tot effens hoër waardes as die voorspelde gemiddelde maandelikse HF-frekwensies gedurende die oggend, maar verswak teen die middag.

’n Interessante verskynsel word opgemerk vir 20 m. Op die roete tussen Johannesburg en Kaapstad is goeie kommunikasie voorspel vir die meeste van die daglig-ure. Die kaart dui ’n interessante verswakking aan om en by 15:00 SAT, wanneer 7 MHz sy piek bereik. As u na die 7 MHz-kaart kyk, lyk dit amper soos ’n sinusgolf wat elke paar uur herhaal. Dit word verwag dat die band meeste van die daglig-ure goed sal vaar.

Op die DX-front sal 20 m goeie DX by tye lewer, met kort openinge na bykans alle uithoeke van die aarde. 10- en 15 m sal u verras met DX-stasies van areas waarvan ons lanklaas gehoor het. Voortplanting is soos die weer – die enigste manier wat u gaan weet dit gaan reën is om na die wolke te kyk. As u nie ‘CQ DX’ roep en luister nie, gaan u nie DX-kontakte maak nie.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 tot 17 Januarie 2010 - PEARS BHF/UHF-kompetisie;
23 Januarie - Tuiskonstruksiekursus in Kaapstad;
31 Januarie - Presidentsnet om 19:30;
31 Januarie - Sluitingsdatum vir AJV-mosies;
6 en 7 Februarie - AWA GG-aktiwiteitsdag;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie - Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za;
27 Maart - 2010 SA AMSAT Ruimtesimposium.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die redakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003